wat se my tjommas?

Om alleen te reis Koos Kombuis Om alleen te reis, is anders as om saam met iemand te reis. Van kleins af is ek gefassineer deur die beeld van die eensame, reisende outsider. Die image is destyds, en ook meer onlangs, geïnspireer deur die letterkunde: Om Alleen te Reis was die titel van Fanie Olivier se bekendste digbundel. En wie kan help om meegevoer te word deur Deon Meyer se eensame motorfietsryer op die highway na nêrens? Deesdae benader ek alleenreis anders as vroeër. Wanneer ek my tas moet pak om sonder my vrou en kinders iewers heen te vertrek, is dit met uiterste gemengde gevoelens. Eerstens omdat ek nie meer gewoond daaraan is nie; dis moeilik om myself weg te skeur van die daaglikse gekwetter van bekende roetines, bekende gesigte, intimiteit. Tog: vroeër in my lewe was alleen-reis vir jare lank my enigste opsie. Dit was tydens my vormingsjare as skrywer. Toe was ek vertroud met die reuke van goedkoop losieshuiskamers, die eie ek begrens deur onbekende ruimtes en vreemdelinge, die subtiele fluisteringe van my eie inspirasie soos asem teen die ruite van my siel. Toe het ek nooit snags wakker geskrik en gewonder hoekom die badkamer nie op dieselfde plek as gewoonlik is nie. Elke liewe dag was ’n verandering, ’n ontworteling. Nuwe persepsies was so vanselfsprekend soos brekfis in ’n ander land. Wanneer ek deesdae alleen reis, is dit altyd met ’n mengsel van angs en antisipasie. Angs, omdat ek ’n gewoontedier geword het met vaste reëls, verknog aan my geliefdes. Antisipasie, omdat ek weet dat ek weer van aangesig tot aangesig gaan kom met daardie lank verwaarloosde ou vriend: die self in afsondering. Die strewende kunstenaar. Die boemelaar op soek na ’n hawe. Dit neem my skaars ’n dag of twee, of ek vergeet heeltemal watter van die onderklere in my reistas skoon of vuil is. In watter T-hemp moet ek slaap, en watter een moet ek deur die dag dra? Alte gou bevind ek my in die middel van TVonderhoude in dieselfde hemp waarin ek al drie nagte geslaap het. Ek vergeet om my tande te borsel, want die aparte kompartement van die tas waar die toiletgoeters ingepak is, bly gesluit. Maar my notaboekies is altyd byderhand. Vry van die gewriemel van kinderlyfies op my skoot en die gelui van telefone en die daaglikse rumoer van die lewe in suburbia, word my kop bestorm deur nuwe idees. Wanneer ek deesdae alleen reis, vind ek inspirasie in die vreemdste plekke. Waar ander reisigers dikwels die ooptes verkies, kampvuurtjies in die Bosveld of ure langs die viswater, word ek bekoor deur die neonliggies en ywerige geflikker van hotelle en casino’s. Ek kan ure lank op en af stap in die kunsmatige skemerlig van The Emperor’s Palace, waar geen tyd bestaan nie, waar alles lyk en voel soos ’n goedkoop replika van ’n oud-Europese skemeruur, iewers in Barcelona of Venesië. Ek bestudeer die krake in die plaveisel van The Lost City. Ek sit stoksielalleen by ’n restauranttafel, buite spitstyd, ver van die ander eters af, en drink ’n bottel wyn op my eentjie. Ek snuffel deur boekwinkels en dwaal deur winkelsentrums. Ek tokkel my kitaar laat in die nag langs koue skinkborde vol verorberde borde room service. Ek verdwaal in die spitsverkeer van ander stede. Ek beland in onbekende kroeë waar ek die bottels op die rak agter die kroegman se skouer bestudeer soos die rugkante van boeke in ’n biblioteek. Vir my het elke alleenreis ’n bestemming, en dis nie noodwendig die bestemming wat uitgestip word deur die reisplanne en print outs van vliegtye en hotelbesprekings in my beursie nie. Hoewel ek min of meer hou by die planne, is ek immer op soek na die ander betekenis van my reis, die doel agter my tydelike eensaamheid. Gewoonlik is ek op soek na iets wat my ontwyk het in die harwar van my studeerkamer by die huis: ’n nuwe einde of slot vir daardie roman-manuskrip wat maar net nie wil klaarkom nie; ’n liedjie om daardie emosie te verwoord wat ek al so lankal ronddra; ’n tema vir my volgende CD. My vorige alleenreis was ’n ietwat desperate affêre, gedryf deur die angs van onlangse ontstellende gebeure in ons land: Taliep Petersen se dood, die aanranding op Anton Goosen en ander bekendes in my onmiddellike dampkring. Skielik kry bekende landskappe ’n vreesaanjaende ondertoon. Ek wonder oor dinge soos beskawingsvlakke. Wat soek ons in Afrika? Waaraan het ek my lewe tot nou toe gewei? Hoe kan ’n mens innerlike bevryding vertaal na bevryding vir al die gemeenskappe in jou land? Hoe speel ’n mens Lisa se Klavier as al die klaviere in Suid-Afrika gebreek of gesteel is? Soos gewoonlik ontmoet ek mense wat my ’n ander perspektief op ou sienings gee. Is dit nie die doel van reis nie? Backstage by ’n rock-konsert vertel die sangeres Karma-Anne, wat nou al twee jaar in Amerika woon en daar sukses begin behaal het, my: “The tornadoes and the hurricanes are something else. I saw this morning on the news that my neighbourhood in Florida had been trashed. And, of course, there are power failures all the time, sometimes they last for days on end.” Hmm, dink ek. Wie is die Eerste Wêreld en wie is die Derde Wêreld? Laat die volgende nag, vasgevang in ’n gruwelike donderstorm en totaal op my eentjie in die Jan Harmsgat Gastehuis in Cullinan, staar ek na die verroeste borde en bakke teen die mure, die dekor van afvalmetaal en mal tros-kuns van ’n nuwe generasie Afrikane, en ek onthou iets van my oorspronklike roeping. Wat Jan Harm met junk doen, wil ek met woorde doen. Nie net verbete die ou taal probeer beskerm teen die imperialisme van ’n nuwe totalitêre regering nie; maar ontdek, inkorporeer, timmer en plak. Tot die buitelyne van ubuntu begin deurskyn op die skadumure van ons vrees. Daar is ’n toekoms. Maar dis baie ver, en baie naby. Om daar te kom, moet mens reis. Fisiek, en ook in jou eie kop. Groetnis Koos http://www.kooskombuis.co.za/

nog tjommas

Nuutste Uitgawe - April 2007

Hierdie maand, lees dié GROOT STORIES in Wegbreek:

Wynmaak in Malmesbury Op soek na die waarheid van wyn Spookstorie - Simonstad Dit spook byna (nie) in Simonstad Iets anders - Sekhukhuneland 'n Klip in Sekhukhune se bos Pasnaweek Vyf-in-een in die Wes-Kaap KwaZulu-Natalse Middellande 'n Hand vol in Howick Afrikane aloor Correné Erasmus-Coetzer Die Poolkoningin van die plaas Die naweek - 48 uur in Witrivier Mpumalanga se witgoud Avontuur - Gravitasiesport Moet net nie jou gatplank sien nie Die naweek - Die Cradle-natuurreservaat Breek weg in die Wieg Anderkant Afrika - Nicaragua 'n Vulkaan onder jou voete Kortverhaal Halfmens My eerste keer Leeukop met volmaan

Monday, April 23, 2007

gadgets




syndicated content powered by FeedBurner

Subscribe Now!

...with web-based news readers. Click your choice below:

addtomyyahoo4Subscribe in NewsGator OnlineAdd to My AOL
Subscribe in RojoSubscribe with BloglinesAdd to netvibes
Add to Google

...with other readers:

Get TechTear delivered by email

original feed View Feed XML

Embed this content on your site

Embed with: SpringWidgets

FeedBurner makes it easy to receive content updates in My Yahoo!, Newsgator, Bloglines, and other news readers.

Learn more about syndication and FeedBurner...

Current Feed Content